'n Man se vet vieslike bierpens en 'n bord ongesonde gemorskos.

Die bierpens is weg

Die bierpens is weg. Die vel is effens los, maar ironies genoeg is hierdie blog se naam en domein “Bierpens”, maar nou het ek nie meer ‘n bierpens nie.

Die bierpens se groei het ontstaan met baie botteltjies en blikkies bier. Tesame met die bier, snoeperye, soos tjips en brood en pap en suiker.

Die bierpens het nie oornag ontstaan nie, maar so met tyd het die dun vetrolletjie al dikker geword en toe begin die pens uitsit. Dit gebeur mos maar as ‘n mens ouer word…

Wanneer ek regop staan en afkyk, het die totterman ‘n afdak van vel en vet, soos ‘n ronde bal van vlees. Dit gaan maar aan. Dis mos lekker, die biere en die snacks.

Die jare stap aan. Die pens groei.

Toe besluit ek nee, nie meer nie.

Die dieetkundige stel toe teen ‘n astronomiese prys vir my ‘n dieet op. Laevet melk wat omtrent flouer as water is, volgraan brood, vrugte, groente. Hoender sonder die vel. Bietjie biltong sonder die vet. Sonder die fokken lekker geelvet! Sy het seker maar goed bedoel, maar ek word nie beter nie. Ek verloor so paar kilogramme, maar ek voel nie lekker nie, ek voel af, en ek pie gereeld.

Dokter toe.

Prediabetes.

Maar ek hou dan vol met die dieet en ek stap gereeld om bietjie oefening in te kry, bietjie te sweet.

Niks werk nie.

Karnivore-dieet. Ek voel toe bietjie bekommerd oor die vet, eintlik baie bekommerd, want ek het grootgeword dat vet sleg is en dat jy gaan omkap as gevolg van ‘n hartstilstand.

Goed, goed, goed. Laat ek dit vir twee weke probeer.

Twee weke word ‘n maand en ‘n maand word vier. Ek leef nog en die skaal sug van verligting.

Die karnivore-dieet is darem maar boring, so ek skakel toe oor na “low carb”, met low carb groentes by.

Botter. Olyfolie.

Ek moet my chroniese medikasie se voorskrif by die dokter gaan hernu. Die bierpens is al heelwat kleiner. Soveel kleiner dat as ek regop staan, die totterman nie meer in die skaduwee hang nie.

Toetse.

Cholesterol goed, dit het BAIE verbeter.

Bloedsuiker normaal.

Bloeddruk normaal.

Ek hou vol. Die bierpens, of wat oorbly daarvan, is nie meer welkom nie.

Weke gaan verby. Maande.

Ek voel uitstekend.

Nog maande en maande en my klere hang soos los sakke aan my lyf.

Die bierpens is weg, tesame met my vet bene en vet arms en my “man boobs”.

Ek kan nie eers onthou wanneer laas ek bier gedrink het nie.

‘n Bierpens is ‘n vieslike ding en daai aaklige ding gaan nooit weer ‘n tuiste in my lyf kry nie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top