Ons kant wen toe

Toe wen die Springbokke.

As ek so na inskrywings op sosiale media kyk, is daar ‘n hele paar Kiwi’s wat suur is. Erg suur.

As jy ‘n Kiwi is wat kla en tekere gaan, net dit: Jou kant… het verloor. Dit beteken jou ouma se kant en jou ma se kant ook. Die All Blacks het verloor.

Daar is van die Engelse en Franse wat ook maar lekker suurgat is.

Beurtkrag – Die buurman wil syne vir my wys

Ek sien byna nooit die buurman nie. Soms wanneer ons werk toe gaan, sien ek hom in sy bakkie en dan waai ons vir mekaar. Ek dink dit is hy, ek is nie eers seker nie.

Verlede week toe sien ek hom. Ek hoor ook musiek van langsaan af kom. Dit was beurtkrag.

Hy het hard aan my voordeur geklop. Beurtkrag beïnvloed nie my deurklokkie nie. Ek weet nou al vir die afgelope jaar of so ek moet die klokkie se batterye vervang. Ek maak die deur oop en daar staan hy. Hy is my buurman in die kompleks en ek weet nie veel van hom af nie.

Ek kyk vraend na hom. Ek is nie lus vir besoekers nie, want in die braai lek die vlamme lekker aan die hout. Vroulief is in die kombuis en is besig om die pap in die pot op die gasstofie te roer.

“Ek het vir my ‘n stelsel gekry,” laat weet hy sonder om te groet. Hy lyk selfvoldaan en kyk smalend na my.

“So?” vra ek.

“Ses sonpanele, inverter, lithium battery,” sê hy.

“Lekker,” sê ek. “Ek hoor die musiek.” Ek wens hy wil gaan. Vroulief is in die kombuis en na werk het sy gemaklik aangetrek en ek weet sy het nie onderklere aan nie. Die hout moet kole maak, dat ek kan braai en ons kan eet en dan gaan… ontspan… vir die aand. Ek stel nie belang is sy sonpanele nie, en dit is in elk geval al skemer.

“Wat het jy?” vra hy.

Ek het ‘n sexy vrou in die kombuis, daar is pap op die stoof en ek het skaaptjops wat gebraai moet word. Ek sê nie dit vir hom nie. Hy het nie ‘n vrou nie. Hy is geskei. “Ek het ‘n power bank vir die router en ‘n flits,” sê ek.

“Jy moet na myne kom kyk.”

Nee, ek wil nie na syne gaan kyk nie.

“Ek hardloop die TV, yskas, Wi-Fi, alles. Tot die ketel,” sê hy.

Die pap ruik lekker. Vroulief weet hoe om pap te maak. Dit moet net-net begin om aan te brand.

“Ja, jy moet dit geniet,” sê ek.

“Ja, ek sit nie meer alleen in die donker nie,” glimlag hy wyd.

Ek ook nie. Ek en Vroulief…

“Nou ja, laat ek nou maar regmaak voordat dit heeltemal donker is,” sê ek.

Hy groet en loop weg. Ek maak die deur toe.

“Wie was dit?” vra Vroulief in die kombuis. Haar lang rooi hare val los oor haar skouers, sien ek in die dowwe gloed van die kerslig.

“Die ou van langsaan.”

Vroulief glimlag stout vir my.

Daar buite sal die hout maar moet uitbrand. Ek het nog baie hout. Ons sal later braai…

Van Biblioteek tot Kindle Unlimited

In die ou dae het ek daarvan gehou om biblioteek toe te gaan. Ek het vier biblioteekkaartjies gehad. Loop deur die biblioteek terwyl sagte klassieke musiek speel en kry vier boeke. Neem die boeke na die toonbank toe en die tannie stempel die boeke met ‘n datum wanneer die boeke terug moet wees. Jy kon ook die biblioteek skakel en dan verleng hulle die tydperk. Ek dink mens kon boeke uitgeneem het vir twee weke.  Indien jy nie die boeke voor of op die datum deur die stempel aangedui terugbesorg het nie en jy het nie geskakel om die tydperk te verleng nie, het jy ʼn boete gekry.

Ek het soos ʼn groot meneertjie gevoel toe ek die eerste keer na die kinderafdeling kon gaan om boeke uit te neem. Later, toe ek hoërskool toe gegaan het, so veertien jaar oud, kon ek na die volwasse afdeling van die biblioteek gaan met vier nuwe kaartjies. Die groot afdeling. Die regte biblioteek.

Die biblioteek het ook ʼn naslaanafdeling gehad. Die boeke daar kon mens nie uitneem nie. Vir skooltake het jy ʼn boek in die naslaanafdeling gekry en dan sit jy daar by ʼn lessenaar en werk. Jy praat nie. Wanner jy regtig moes praat, het jy gefluister.

Daar was ook langspeelplate in die biblioteek wat mens kon uitneem. Vinielplate. Nie lekker heavy metal musiek soos Black Sabbath en AC/DC nie, maar klassieke musiek en ʼn paar plate van Afrikaanse sangers.

Daar was ook tydskrifte in die biblioteek. Gesinstydskrifte.

Die rak met die nuutste boeke was gewild. In daardie dae het die biblioteek nog gereeld nuwe boeke aangeskaf. Wanneer ek biblioteek toe gegaan het, het ek eerste na daardie rak toe gegaan.

Ek was voor 2020 laas in ʼn biblioteek. Die biblioteek was vuil. Die boeke verwaarloos. Die lessenaars wankelrig. Die matte het muf geruik. Buitekant in die parkeerarea het bedelaars rondgehang. Binne in die biblioteek was daar ʼn kennisgewing dat jy moet pasop vir grypdiewe.

Die biblioteek is moer toe. Ek hoop die ander biblioteke in die land is nie so nie.

Ek het besluit nee wat ek gaan dan nie meer biblioteek toe nie.

Tweedehandse boekwinkels het darem gesorg dat ek nog kon lees. Nuwe boeke is duur.

Toe sluit ek aan by Kindle Unlimited. Tien dollars per maand. Indien die Rand sy gat sien, dan is dit natuurlik duurder.

Duisende boeke. Daar is net nie baie Afrikaanse boeke met Kindle Unlimited beskikbaar nie. Ek sal maar sien hoe dit gaan.