Vrydag is die begin van die naweek en dit beteken braai. Vleis en brood. Nie braaibroodjies nie, maar karnivore-brood vir my. Brood sonder meel. Brood sonder stysel.
Braai is maklik. Maak vuur, wag vir die kole, gooi die vleis op die rooster. Wanneer die speserye en sout op die vleis gegooi word, hang maar van elke braaier af. Steak gooi ek sout so uur voordat ek braai en speserye net voordat die steak reg is. Lamstjops sit ek net so ongesout op die rooster en gooi sout en speserye nadat ek die tjops een keer omgedraai het.
Die karnivore-brood is ook maklik om te maak:
- 8 eiers teen kamertemperatuur
- ʼn Houertjie roomkaas of maaskaas teen kamertemperatuur.
- 1 teelepel bakpoeier, maar jy kan die bakpoeier maar los ook as jy super streng karnivore eet.
- 2 gaar hoenderborsies, of so ½ koppie fyn biltong – die biltong wat amper poeier is, of “pork crackling” wat fyn so koppie vol sal wees. Skat maar hoeveel, die resep vergewe baie.
Maak so om die karnivore-brood te bak:
Skakel die oond aan, 190C
As jy hoenderborsies of pork crackling gebruik, maak dit fyn in die voedselverwerker, die masjien in die kombuis met die lemme, en hou jou vingers weg.
As jou masjien sukkel met die pork crackling, moenie stres nie. Gooi net die eiers by en laat staan. Die pork crackling sal sag word en dan speel die masjien gou klaar daarmee en meng dit sommer saam met die eiers ook.
Klits nou die eiers by die fyn hoender, of die biltong, of die crackling (as jy nie die eiers gebruik het om die crackling sag te maak nie.)
Klits die roomkaas of maaskaas by.
Strooi die bakpoeier oor die mengsel en meng deur.
Spuit ʼn broodpannetjie of smeer goed met regte botter.
Gooi die mengsel in die broodpannetjie.
In die oond in vir so 35 minute, tot lekker goudbruin bo op. Probeer jou bes om nie die oond oop te maak as dit nie nodig is nie.
Die brood gaan nie so baie rys soos jou ouma se suurdeegbrood in die oond nie.
Ek het nog nooit ʼn rou of halfrou of ongebakte brood gehad na 35 minute nie, maar toets maar met ʼn stokkie, dalk is jou oond anders.
Wanneer die brood reg is, haal dit uit die oond en plaas in die pan op ʼn draadrak om af te koel en wanneer genoeg afgekoel na so 15 minute, gooi die brood uit die pan en laat verder afkoel.
Sny die brood, smeer regte botter op en sprinkel bietjie sout of speserye oor. Dit is nie ‘n groot brood nie en saam met braaivleis eet ek so 2 snytjies. Dit lyk dalk min en klein, maar hierdie karnivore-brood maak mens gou vol.

