Dit is nou al so paar kere wat ek genader is om by DSTV in te teken. ʼn “Paar kere” en “genader” is eintlik heeltemal te lig gestel.
Nee dankie, DSTV. Ek stel nie belang nie.
Daar is seker diegene wat vasgenael voor hulle TV sit, en DSTV geniet, maar ek wat Frikkie is, het nie die tyd of die lus vir DSTV nie. Ek staan in die oggend op, maak reg en begin werk. Eers so na 18:00 het ek weer tyd vir myself.
Dan maak ons aandete. Ja, ons eet voor die TV, maar ons kyk sommer iets op Showmax of Netflix. Soms teken ons ook in by Amazon Prime Video, soos wanneer Beast Games beskikbaar is. Of Clarkson’s Farm.
Wat op DSTV se kanale wys wanneer ons eet weet ek nie en ons stel ook nie belang nie. Ons kyk ook nie juis sport nie en wanneer daar wel die dag sport is wat vir ons die moeite werd is om te kyk, gaan ons sommer na die naaste kroeg toe. Sports bar.
Gedurende die dag kyk ek nie TV nie. Wanner ek wel ʼn tydjie het, sal ek eerder gaan stap om vars lug te kry of inskrywings vir die blog tik, soos wat ek nou besig is om te doen.
Daarby dink ek ook nie DSTV is ʼn goeie deal nie. Ek het al te veel gelees hoe mense kla oor die heruitsendings en dat DSTV se MultiChoice eintlik MonoChoice is.
Na aandete het ons so rukkie tyd om aan die kant te maak en dan moet ons bed toe, want in die oggend moet ons weer vroeg op.
Naweke het ek meer tyd, maar dan speel ek games, XBOX, gaan winkels toe, braai, en so aan.
Is DSTV nog ʼn ding? Dit is (vir my) veel beter om net by ʼn stromingsdiens of twee in te teken en te kyk wat ek wil wanneer ek wil.
Mens kan DSTV blykbaar ook stroom, sonder om ʼn skottel op die dak staan te maak. Goed, maar kan mens stroom wat en wanneer jy wil? Is daar ʼn pakket waar mens die sport kan weglaat? Is kykNet alleenlik op die duur opsies beskikbaar? Kan mense kies vir watter kanale hulle wil kyk en betaal?
Nee wat, hou verby, heeltemal verby.

