Marinda, nee, moenie stres nie, as jou tattoo regtig is en nie opgeplak is nie, sal dit nie afwas as jy gaan swem nie.

Tatoeëermerke is vir sommige sinoniem met tronkvoëls.  Daai ou het ‘n tattoo, so hy was in die mang. Agter tralies. Elkeen het sy of haar opinie oor tatoeëermerke. Dan kry mens die mense wat bekommerd is oor hoe die tattoo gaan lyk as jy 80 is.

Tannie, Oom, Meneer, Juffrou, Mevrou: Mense word oud. Hoe gaan jou gesig lyk as jy 80 is? Dink jy as jy die dag 80 is, jou gesiggie gaan lyk soos die Facebook profielfoto van jou toe jy 18 was, al is jy nou al 38? Nee Mevrou anti-tattoo. Jy gaan plooie kry, hoor, en teen die tyd wat jy 80 is, gaan jy baie plooie hê. Dink jy alles gaan lekker styf en ferm bly? Nee Tannie, die swaartekrag gaan jou vang.

Oom, dink jy as jy die dag 80 is, jou hout gaan so sterk wees soos nou? Onthou, jy is al ‘n “Oom”, so dalk begin jou riet bietjie slap raak. Is dit dan die tyd om te worry, op 80, oor hoe ‘n tattoo lyk wat jy gekry het toe jy 20 was, of is dit dan die tyd om ernstig oor die prostaat wakker te lê?

Oom, Tannie, ek het ook nog nooit ‘n skoonheidskompetisie vir 80-jariges gesien nie. Met of sonder tattoos, ek het nie. Ek is seker as al die 80-jariges sonder tattoos beeldskone velle gehad het, sou daar so kompetisie gewees het.

Om oud te word is deel van die lewe. Beplan finansieel vir die oudag, en geniet die jong tyd nou. Dis my motto. As ek byvoorbeeld moet begin worry oor hoe my tande gaan lyk as ek die dag 80 is, sal ek van nou af net sagte broodjies sonder korsies moet eet. Dis nie lekker nie.

Die tattoo sit net onder boonste lagies van die vel. Dit is deel van die uiterlike. Die liefde gaan diep. Oumense wat op 80 nog verlief op en lief is vir mekaar, met of sonder tattoos, dit is mooi. Dit is pragtig.

Kategorië: Blog

0 Kommentare

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.