Nee, Oom Bossie, ontspan. Ek praat nie van jou seun Dwayne wat ‘n papier het om te sê hy is ‘n fotograaf en wat ‘n toekenning gekry het vir sy foto van die bosakkedisse wat paar nie. “Fotograaf” in aanhalingstekens. Sien?

Ek praat van die volgende “fotograwe”:

Hy of sy gaan na Makro of Game of een van daai plekke toe en koop ‘n kamera. Gewoonlik ‘n combo, soos ribs met chicken wings, maar net ‘n kamera met ‘n lens en ‘n kamerasak. Betaal met plastiek,  gaan huis toe, frons, kyk ‘n YouTube video en dan rol hy (of sy).

Strike ‘n pose, voete lekker uitmekaar, gooi die lyf skuins, kamera stewig vas, en druk die knoppie. Neem ‘n foto van die hond en die posbus in die voortuin. Speel met die kamera se settings, en dan is ons ‘n fotograaf.

Die advanced gedeelte kom dan. Software van die internet af, en ons edit. Nou is ons reg. Tannie Tossie se kleinkind gaan trou. Nee moenie so baie vir ‘n fotograaf betaal nie, ek het dit. Lekker kleiner fooi, koop eerder nog drank vir die gaste.

Daar gaan ons. Troufoto’s. Nou maak ons geld want ons het alles met die plastiek gekoop en die bank druk. Die foto’s lyk vrot, maar al die vriende en vriendinne sê dit lyk goed. Tannie Tossie se kleinkind huil, want sy kan sien die foto’s is sleg geneem. Moenie stres nie, maak die software oop, sit blommetjies en wolkies en kak by die foto’s, maak ‘n paar foto’s wit-en-swart, blameer die lig in die sitkamer waar die groot foto hang en alles is reg.

Die ongelukkigheid eindig dan eers wanneer Tannie Tossie se kleinkind skei, en sy later weer trou en ordentlike foto’s laat neem.

 

Kategorië: Blog

0 Kommentare

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.