Nee, Tannie Grieta, banting is nie wanneer jy jou Corolla se bande laat roteer nie.

Ek dink nie enige iemand het bekendstelling aan die term “banting” nodig nie.

Toe ek klein was, vandat ek kon onthou, was vet sleg. As jy ‘n hartaanval wil kry, dan eet jy botter. As jy boerewors gesonder wil maak, dan pleeg jy ‘n lelike sonde: Jy steek die boerie op die braai stukkend dat al die vet uitspuit. Jy gooi die geel van ‘n gekookte eier wat jou so stink laat poep in die asblik en eet die wit. Spek en room was vir mense wat gou wou doodgaan.

Iewers langs die pad het ek toe ‘n bierpens ontwikkel. Ek kry toe sommer ‘n bynaam of twee ook, soos Dikkes. Natuurlik het die bier waarvoor ek so lief was, bygedra tot die vergroting van my middel.

Toe lees ek van banting. WTF? Goed, dit het bietjie van ‘n kopskuif gekos, en nog so bietjie leeswerk, maar toe begin ek.

Die ironie is dat ek nou hier blog met ‘n domeinnaam bierpens, maar as ek eendag net wil begin om ‘n paar opsitte in die oggende te doen, sal ek ‘n six-pack hê.

In my kop is ek nog Dikkes en Bierpens, maar my lyf stem nie saam nie. Ek dink die tyd toe ek al vetter geword het, was ek nog maer in my kop. Noudat ek weer maer is, is ek nog vet in my kop.

Ek dink ek sal weer ‘n kopskuif moet maak sodat my denke pas by my lyf.

Kategorië: Blog

0 Kommentare

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.