In die ou dae het ek daarvan gehou om biblioteek toe te gaan. Ek het vier biblioteekkaartjies gehad. Loop deur die biblioteek terwyl sagte klassieke musiek speel en kry vier boeke. Neem die boeke na die toonbank toe en die tannie stempel die boeke met ‘n datum wanneer die boeke terug moet wees. Jy kon ook die biblioteek skakel en dan verleng hulle die tydperk. Ek dink mens kon boeke uitgeneem het vir twee weke. Indien jy nie die boeke voor of op die datum deur die stempel aangedui terugbesorg het nie en jy het nie geskakel om die tydperk te verleng nie, het jy ʼn boete gekry.
Ek het soos ʼn groot meneertjie gevoel toe ek die eerste keer na die kinderafdeling kon gaan om boeke uit te neem. Later, toe ek hoërskool toe gegaan het, so veertien jaar oud, kon ek na die volwasse afdeling van die biblioteek gaan met vier nuwe kaartjies. Die groot afdeling. Die regte biblioteek.
Die biblioteek het ook ʼn naslaanafdeling gehad. Die boeke daar kon mens nie uitneem nie. Vir skooltake het jy ʼn boek in die naslaanafdeling gekry en dan sit jy daar by ʼn lessenaar en werk. Jy praat nie. Wanner jy regtig moes praat, het jy gefluister.
Daar was ook langspeelplate in die biblioteek wat mens kon uitneem. Vinielplate. Nie lekker heavy metal musiek soos Black Sabbath en AC/DC nie, maar klassieke musiek en ʼn paar plate van Afrikaanse sangers.
Daar was ook tydskrifte in die biblioteek. Gesinstydskrifte.
Die rak met die nuutste boeke was gewild. In daardie dae het die biblioteek nog gereeld nuwe boeke aangeskaf. Wanneer ek biblioteek toe gegaan het, het ek eerste na daardie rak toe gegaan.
Ek was voor 2020 laas in ʼn biblioteek. Die biblioteek was vuil. Die boeke verwaarloos. Die lessenaars wankelrig. Die matte het muf geruik. Buitekant in die parkeerarea het bedelaars rondgehang. Binne in die biblioteek was daar ʼn kennisgewing dat jy moet pasop vir grypdiewe.
Die biblioteek is moer toe. Ek hoop die ander biblioteke in die land is nie so nie.
Ek het besluit nee wat ek gaan dan nie meer biblioteek toe nie.
Tweedehandse boekwinkels het darem gesorg dat ek nog kon lees. Nuwe boeke is duur.
Toe sluit ek aan by Kindle Unlimited. Tien dollars per maand. Indien die Rand sy gat sien, dan is dit natuurlik duurder.
Duisende boeke. Daar is net nie baie Afrikaanse boeke met Kindle Unlimited beskikbaar nie. Ek sal maar sien hoe dit gaan.