Beurtkrag - tyd vir sexy wees.

Beurtkrag – Die buurman wil syne vir my wys

Ek sien byna nooit die buurman nie. Soms wanneer ons werk toe gaan, sien ek hom in sy bakkie en dan waai ons vir mekaar. Ek dink dit is hy, ek is nie eers seker nie.

Verlede week toe sien ek hom. Ek hoor ook musiek van langsaan af kom. Dit was beurtkrag.

Hy het hard aan my voordeur geklop. Beurtkrag beïnvloed nie my deurklokkie nie. Ek weet nou al vir die afgelope jaar of so ek moet die klokkie se batterye vervang. Ek maak die deur oop en daar staan hy. Hy is my buurman in die kompleks en ek weet nie veel van hom af nie.

Ek kyk vraend na hom. Ek is nie lus vir besoekers nie, want in die braai lek die vlamme lekker aan die hout. Vroulief is in die kombuis en is besig om die pap in die pot op die gasstofie te roer.

“Ek het vir my ‘n stelsel gekry,” laat weet hy sonder om te groet. Hy lyk selfvoldaan en kyk smalend na my.

“So?” vra ek.

“Ses sonpanele, inverter, lithium battery,” sê hy.

“Lekker,” sê ek. “Ek hoor die musiek.” Ek wens hy wil gaan. Vroulief is in die kombuis en na werk het sy gemaklik aangetrek en ek weet sy het nie onderklere aan nie. Die hout moet kole maak, dat ek kan braai en ons kan eet en dan gaan… ontspan… vir die aand. Ek stel nie belang is sy sonpanele nie, en dit is in elk geval al skemer.

“Wat het jy?” vra hy.

Ek het ‘n sexy vrou in die kombuis, daar is pap op die stoof en ek het skaaptjops wat gebraai moet word. Ek sê nie dit vir hom nie. Hy het nie ‘n vrou nie. Hy is geskei. “Ek het ‘n power bank vir die router en ‘n flits,” sê ek.

“Jy moet na myne kom kyk.”

Nee, ek wil nie na syne gaan kyk nie.

“Ek hardloop die TV, yskas, Wi-Fi, alles. Tot die ketel,” sê hy.

Die pap ruik lekker. Vroulief weet hoe om pap te maak. Dit moet net-net begin om aan te brand.

“Ja, jy moet dit geniet,” sê ek.

“Ja, ek sit nie meer alleen in die donker nie,” glimlag hy wyd.

Ek ook nie. Ek en Vroulief…

“Nou ja, laat ek nou maar regmaak voordat dit heeltemal donker is,” sê ek.

Hy groet en loop weg. Ek maak die deur toe.

“Wie was dit?” vra Vroulief in die kombuis. Haar lang rooi hare val los oor haar skouers, sien ek in die dowwe gloed van die kerslig.

“Die ou van langsaan.”

Vroulief glimlag stout vir my.

Daar buite sal die hout maar moet uitbrand. Ek het nog baie hout. Ons sal later braai…